October 4, 2017

Please reload

Onlangse Plasings

Doep is Nie Dood Nie

March 25, 2015

1/1
Please reload

Gewilde Plasings

Tydlose Doep Betower

April 24, 2015

Op Woensdag, 23 April, het Koos du Plessis se lirieke en musiek harte warm laat gloei. Jannie du Toit se vertoning 'Doep is nie dood nie', wat met behulp van Clover op die been gebring is, het nie net ouer teatergangers genot verskaf nie, maar het, danksy SunMedia in Stellenbosch, ook leerders van plaaslike hoërskole bederf.

 

 

Susan Mouton (op tjello) en Coenraad Rall (op klavier en trekklavier) toer saam met Jannie. 

 

Ons het leerders gevra wat hul van die produksie dink:

 

 

_________________________________________________________________________________________________________________

 

PERSVERKLARING:

 

As dit gedaan is en verby

die aarde weer sy erfdeel kry

sal hierdie kluisenaar in my

nog iewers in ‘n boekrak bly

 

So het Koos du Plessis baie jare gelede gedroom, maar sy werk bly vandag hoegenaamd nie net op ‘n boekrak nie. Dit leef voort in die kollektiewe geheue van ons taalgemeenskap en word onder andere op rock-verhoë, in klassieke musieksale en in kerke, steeds ook in maanligserenades en om kampvure gesing.

 

Jannie du Toit beplan om sy uiters gewilde verhoogproduksie DOEP IS NIE DOOD NIE in samewerking met SunMedia oor die volgende jaar landswyd by skole aan te bied. Dit is ‘n projek om skoolkinders te inspireer met Koos du Plessis se ongeëwenaarde woord- en musiekkuns wat in hierdie program uitmuntend aangebied word. By elke aanbieding sal leerlinge die geleentheid kry om met teksontledings van Koos se liedtekste en gedigte  ‘n kopié van sy biografie te wen. Koos se tekste is reeds jare lank voorgeskryf in Afrikaanse leerplanne en hierdie program van sang en teksvoordragte gee ‘n vars blik op die verstommende werk van hierdie digter-sanger. Jannie sit hiermee sy werk voort om Koos se musiek by ’n volgende geslag te laat voortleef.

 

 

Jannie du Toit se bewondering en waardering vir Koos du Plessis kom oor byna vier dekades en hy het deurentyd ‘n rol gespeel in die bekendstelling daarvan.

 

Justa Niemand, deesdae hoof van die uitgewery SunMedia in Stellenbosch, het in 1977 by RAU ‘n musiekbandjie met liedjies van haar swaer Koos du Plessis by haar gehad. Sy het dit vir Jannie as jong liedjieskrywer en lid van die “folk”-groep TRILOGIE gespeel met die vraag of TRILOGIE dalk van die liedjies sou wou sing. Die groep het egter teen daardie tyd reeds uitmekaar gegaan en Jannie het vir Justa gesê hy dink in elk geval nie iemand kan die liedjies beter as Koos self sing nie.

 

Kort daarna – in die tyd van die “Musiek- en Liriekbeweging” oftewel die ontwaking van Afrikaanse kleinkuns, het die twee sangers mekaar ontmoet en groot vriende geword. Koos en sy gesin was dikwels gaste vir braaivleis, maar ook getroue besoekers by die “liedjie-aande” wat Jannie gedurende 1981 en 1982 by sy huis: Margaretastraat 28 naby die dieretuin in Pretoria gehou het.

 

By hierdie gratis kuier-musiekaande het Koos vir mense gesing soos hy dit baie graag gedoen het: plat op die sitkamervloer en nie op ‘n verhoog nie. Kunstenaars soos Coenie de Villiers, Lucas Maree, Anneli van Rooyen, Janita Claassen en talle andere het mekaar en ‘n groepie entoesiastiese luisteraars geesdriftig ondersteun en begeester. Op sy heel eerste album, ‘N LIEDJIE VIR JOU van 1981, neem Jannie dan ook vir die eerste keer ‘n lied van Koos op, naamlik SKIMME.

 

Na Koos se oorlye in 1984 neem Jannie ook saam met Coenie de Villiers, Lucas Maree en Nick Taylor ‘n postume eerbewys aan Koos Doep op: KOOS SE PLAAT, met liedjies wat tot op daardie datum nog onbekend was omdat dit nie op Koos se eerste drie plate opgeneem is nie. Lucas en Jannie sing hierop die eerste bekende weergawe van Koos se GEBED en Jannie verwerk en sing nog ‘n paar liedjies waaronder die begeesterende OM DEUR TE BREEK.

 

Op sy volgende album PALET (1990) neem hy Laurinda Hofmeyr se toonsetting van Koos se EENVOUD op en stel kort daarna saam met Christa Steyn haar verwerking van Koos se onvergeetlike SOMERKERSFEES bekend. Jannie skryf ook die laaste strofe van hierdie lied wat jare lank al in die Liedboek van die Kerk opgeneem is.

 

Op versoek van ds Henno Cronjé van die FAK stel Christa en Jannie met Marié du Toit in 1992 ‘n huldigingsprogram vir Koos du Plessis saam. Dit was onder regie van Stephan Bouwer, getitel SKADU’S TEEN DIE MUUR. In 1993 besoek hulle die Lae Lande met hierdie program wat daarna oor ‘n volle dekade (later ook saam met Anna Davel) van tyd tot tyd landswyd aangebied is.

 

Christa lê in 2004 – 20 jaar na Koos se oorlye – ‘n grootse program, NAGKANTOOR – oor Koos du Plessis se lewe en werk aan die KKNK voor. Dit word daardie jaar se groot verkoper by die KKNK met ‘n teks deur PG du Plessis en Carl (Tinie) Theunissen, regie deur Sandra Prinsloo en ‘n rolverdeling wat akteurs en sangers, onder andere Marcel van Heerden, Franz Dobrowsky, Mathys Roets en Jannie insluit. Die eienares van Stellenbosch se nuwe Drostdy-teater, Ingrid Howard, was destyds verantwoordelik vir aanbiedinge van dié program saam met die SUKOVS Simfonie-orkes in Bloemfontein.

 

Ook in 2004 publiseer SunMedia ERFDEEL, ‘n biografiese werk wat handel oor Koos du Plessis se lewe en werk, saamgestel deur sy gesin en familie. Dit bevat ook sy tekste wat gedigte en alle liedere insluit – laasgenoemde voorsien van akkoorde vir kitaarbegeleiding. Hierdie publikasie het gelei tot nog ‘n projek van Anna Davel met Christa en Jannie in 2007: DAGBOEK VAN ‘N SWERWER. Daarin kon toonsettings van Koos se gedigte deur ‘n verskeidenheid Afrikaanse kunstenaars gehoor word.

 

DOEP IS NIE DOOD NIE is ’n eenman-aanbieding met teks- en musiekgrepe oor die lewensbeskouing en werk van Koos du Plessis waarmee Jannie du Toit verlede jaar by die KKNK gedebuteer het en wat hy sedertdien met groot sukses landswyd aanbied. Hy word begelei deur die hooftjellis van die Johannesburgse Filharmoniese orkes, Susan Mouton, en die briljante pianis Coenraad Rall, terwyl die verwerkings meesterlik gedoen is deur Clinton Zerf. Dertig jaar na Koos se afsterwe word dit in hierdie produksie duidelik hoe lewend en relevant sy siening van die lewe steeds bly, hoe treffend sy liedkuns.

 

Vir inligting oor optredes en vir navrae oor die skoleprojek, gaan na www.janniedutoit.com

 

 

 

 

Please reload

DROSTDY THEATRE

Cnr Alexander St & Bird St, Stellenbosch

T: 079 699 5091

E: ane@drostdyteater.co.za

 

  • Facebook - White Circle
  • Instagram - White Circle
  • Twitter - White Circle