October 4, 2017

Please reload

Onlangse Plasings

Doep is Nie Dood Nie

March 25, 2015

1/1
Please reload

Gewilde Plasings

Doep is Nie Dood Nie

March 25, 2015

Alle liedere en bindtekste:  Koos du Plessis

Samestelling:  Carl Theunissen/Jannie du Toit

Regie: Carl Theunissen

Musiekregie en verwerkings: Clinton Zerf

Tjello:  Susan Mouton

Klavier: Coenraad Rall 

Doep illustrasie: Diek Grobler

 

DOEP IS NIE DOOD NIE is ’n eenman-aanbieding met teks- en musiekgrepe oor die lewensbeskouing en werk van Koos du Plessis. Koos is in Januarie 1984 op jeugdige leeftyd oorlede, maar sy nalatenskap bly ’n bron van wysheid en onsterflike musiek.  Dertig jaar na sy afsterwe word dit in hierdie verhoogproduksie duidelik hoe lewend en relevant sy siening van die lewe steeds bly, hoe treffend sy liedkuns.

 

 

Jannie du Toit, ’n groot vriend van Du Plessis, sit hiermee sy werk voort om Koos se musiek by ’n volgende geslag te laat voortleef. Hy verwesenlik ook ’n jarelange droom om ’n “eenmanvertoning” oor Koos se werk aan te bied. Hy kry dié geleentheid met die vriendelike steun van Clover Suid-Afrika en Innibos Kunstefees. Die samesteller en regisseur, Carl Theunissen, was as joernalis ’n jarelange vriend  en kollega van Koos Doep. 

 

Jannie het sy eerste opname van een van Koos se liedjies, SKIMME, vir sy album ’N LIEDJIE VIR JOU in 1981 gemaak – ’n jaar nadat hy Koos ontmoet het. Hy was in 1987 deel van die KOOS SE PLAAT-huldigingsprojek saam met Lucas Maree, Coenie de Villiers en Nick Taylor en het daarna telkens weer projekte aangepak waarin Koos se musiek bekend gestel is.  

 

Saam met Lucas het Jannie in 1987 Koos se GEBED laat hoor en hy skryf daarna in oorleg met Koos se gesin ’n laaste strofe vir SOMERKERSFEES. Jannie stel dié lied in 1992 op ’n album bekend en dit is nou die mees gesogte oorspronklike Afrikaanse kersliedjie.

 

Saam met Christa Steyn en andere bied hy ook aan:  SKADU’S TEEN DIE MUUR (1992 – dié produksie word ook in België en Nederland aangebied), NAGKANTOOR (2004) en DAGBOEK VAN ’N SWERWER (2007).

 

In DOEP IS NIE DOOD NIE is nie net die liedjies nie, maar ook elke sinsnede wat op die verhoog gesê word Koos se eie. Aanhalings uit ander liedere, gedigte en selfs ’n kortverhaal wat Koos self een aand vir Jannie oorvertel het word gebruik. Deur sy groot verskeidenheid tekste wat mekaar oor-en-weer toelig, kry gehore ’n dieper insig in Koos se verstommende oeuvre. Die produksie is ’n herwaardering van sy werk en stel ook van sy minder bekende materiaal bekend.

 

 

“As dit gedaan is en verby, die aarde weer sy erfdeel kry, sal hierdie kluisenaar in my nog iewers in ’n boekrak bly.”  

 

Só het Koos du Plessis geskryf oor sy eie verganklikheid – oor die hoop om iets blywend te doen, iets na te laat. Hy is nou, meer as wat hy ooit kon voorsien het, teenwoordig in die Afrikaanse musiekbelewenis. Sy werk is deur uiteenlopende kunstenaars – van rockers tot popsangers en a capella-kore, troebadoers en instrumentaliste – ontgin. Hy het nie tot ’n “boekrak” beperk gebly nie maar sy geskrifte, liedjies en tuisopnames het uitgekring na boeke, sangbundels, langspeelplate, CD’s, video’s, mp3’s, YouTube, en word gesing by braaivleise, kerkdienste en partytjies.

 

Gedurende 2013 is Koos se bekendste lied, KINDERS VAN DIE WIND in ’n landswye kompetisie aangewys as die grootste Afrikaanse lied van alle tye.

 

Die jaar 2015 is die jaar waarin Koos reeds 31 jaar gelede oorlede is.

 

 

 

Please reload

DROSTDY THEATRE

Cnr Alexander St & Bird St, Stellenbosch

T: 079 699 5091

E: ane@drostdyteater.co.za

 

  • Facebook - White Circle
  • Instagram - White Circle
  • Twitter - White Circle